Welkom by Nakuphi!

Kamp Nakuphi is ‘n waterwerkkamp wat jaarliks in Oktober aangebied word en vind plaas by die Da Gama Dam wat tussen Witrivier en Hazyview lê.

Kamp Nakuphi se hoof doel is wateravontuur en ons streef om ‘n hoë gehalte kursus aan elke verkenner te bied.

Nakuphi is 'n trotse Gebiedskamp van Leeuwenveld Voortrekkers.

Nakuphi is meer as net 'n verkennerkamp - dit is 'n tuiste waarheen jy jaar na jaar kan terugkeer. Skryf in en word deel van hierdie dinamiese familie!

Hoekom Nakuphi?

Nakuphi is anders as ander Voortrekkerkampe. Ons plaas meer waarde op die kwaliteit van ons aanbiedings as die aantal Verkenners op ons kamp. Ons glo daarin om die spesialisasievereistes te oortref en dit nie net te behaal nie.

Ons Kursusse

Varswaterkunde
Graad 8

Varswaterkunde is die ideale plek om jou wateravontuur te begin. Hier leer Verkenners van die watersisteem en ekologie van die Da Gama-dam. Verkenners ondersoek verskeie diertjies en natuurverskynsels en spandeer meer as genoeg tyd in die water! Hierdie is nie ʼn kursus vol skoolwerk nie! Ons het ʼn praktiese benadering tot leer.

Roeikunde
Graad 9

Die roeikundekursus is propvol pret en avontuur. Verkenners bou hulle eie vlot en leer hoe om met ʼn verskeidenheid kajakke en kano’s te roei. Die kursus sluit die touwerkspesialisasie in en Verkenners besoek verskeie gedeeltes van die Da Gama-dam.

Seilkuns
Graad 10 - 12

Nakuphi is passievol oor seil en ons is trots daarop om elke jaar Verkenners te lewer wat hierdie sport bemeester het. Verkenners voltooi die seilkuns- en seilvernufspesialisasies en kry die geleentheid om solovaarte met dubbel- en enkelrompseilbote te neem. Hierdie kursus is ʼn hoogtepunt vir alle Verkenners!

Voëlidentifiseering
Graad 10 - 12

Die Da Gama-dam bied die ideale omgewing om met ʼn wye verskeidenheid voëls kontak te maak. Ons Voëlidentifiseringkursus poog om ʼn liefde vir dié stokperdjie te ontwikkel – veral vir Verkenners wat verkies om hulle voete ʼn bietjie droër te hou! Hierdie kursus sluit ʼn uitstappie na die Nasionale Krugerwildtuin in.

Spyseniering
Graad 10 - 12

Die spysenieringkursus bied Verkenners die geleentheid om kennis te maak met die wêreld van voedselvoorbereiding. Verkenners leer verskeie kombuisvaardighede soos messlypmetodes, voedselverwerking en spyskaartbeplanning. Verkenners is hulpvaardig tydens die voorbereiding van die kamp se etes, maar het steeds genoeg geleentheid om self in die water af te koel.

Skubaduik
Graad 11 en 12

Kamp Nakuphi is die enigste kamp waar hierdie kenteken op 'n baie hoër vlak as net die kentekenvereistes aangebied word. Behalwe die basiese vereistes van snorkelduik word die verkenner ook aan die skubaduikkuns/-sport voorgestel. Alle Verkenners ontvang 'n NAUI Diving Passport sertifkaat as bewys van hulle nuwe vaardigheid. Hierdie is 'n baie gesogte kenteken/kursus en ons laat slegs 8 verkenners tot die kursus toe.

Advento
Graad 11 en 12

Hierdie kursus is die klimaks van Verkenners se Verkennerloopbaan by Nakuphi. Hierdie is nie nog ʼn Selfbehoud nie: Verkenners gaan deelneem aan ʼn unieke avontuurervaring waar hulle uitslaap, lekker eet en aan verskillende wateraktiwiteite deelneem. Advento oorleef nie; hulle leef!