Welkom by Nakuphi!

Kamp Nakuphi is ‘n waterwerkkamp wat jaarliks in Oktober aangebied word en vind plaas by die Da Gama Dam wat tussen Witrivier en Hazyview lê.

Kamp Nakuphi se hoof doel is wateravontuur en ons streef om ‘n hoë gehalte kursus aan elke verkenner te bied.

Nakuphi is 'n trotse Gebiedskamp van Leeuwenveld Voortrekkers.

Nakuphi is meer as net 'n verkennerkamp - dit is 'n tuiste waarheen jy jaar na jaar kan terugkeer. Skryf in en word deel van hierdie dinamiese familie!

Nakuphi 2024

Nakuphi is anders as ander Voortrekkerkampe. Ons plaas meer waarde op die kwaliteit van ons aanbiedings as die aantal Verkenners op ons kamp. Ons glo daarin om die spesialisasievereistes te oortref en dit nie net te behaal nie.

Ons Kursusse

Varswaterkunde
Graad 8

Tydens die kenteken word die Verkenner aan die water voorgestel, met verskeie interessante aktiwiteite, soos dieptepeilings, bou en bemanning van 'n weerstasie, hengel en nog vele meer.

Roeikunde
Graad 9

Hier word die Verkenner die kuns van roei aangeleer. Daar word van platboom kano's, K1 en K2 kano's, en vlotte gebruik gemaak om die kuns te bemeester. Een van die hoogtepunte is die uitslaap, waartydens die Verkenners met hulle vlotte, kano's, bagasie en kos die kamp verlaat en iewers anders langs die dam gaan oornag.

Seilkuns
Graad 10 - 12

Tydens dié baie opwindende kursus, word Verkenners die basiese beginsels van seil geleer. Hierdie kuns word aangeleer deur van catamarans gebruik te maak. Alhoewel dit baie stabiele bote is, kan al die beginsels van seil baie goed hier geleer word. Die kursus word afgesluit met 'n baie opwindende regatta. 'n Verkenner wat die kenteken voltooi, kan op sy eie 'n boot opslaan en gaan seil in matige wind toestande. Elke Verkenner word met 'n spesiale toekenning en sertifikaat beloon na sy/haar eerste suksesvolle alleenvaart.

Spyseniering
Graad 10 - 12

Die spysenieringkursus bied Verkenners die geleentheid om kennis te maak met die wêreld van voedselvoorbereiding. Verkenners leer verskeie kombuisvaardighede soos messlypmetodes, voedselverwerking en spyskaartbeplanning. Verkenners is hulpvaardig tydens die voorbereiding van die kamp se etes, maar het steeds genoeg geleentheid om self in die water af te koel.

Snorkelduik
Graad 11 en 12

Kamp Nakuphi is die enigste kamp waar hierdie kenteken op 'n baie hoër vlak as net die kentekenvereistes aangebied word. Behalwe die basiese vereistes van snorkelduik word die verkenner ook aan die skubaduikkuns/-sport voorgestel. Alle Verkenners ontvang 'n NAUI Diving Passport sertifkaat as bewys van hulle nuwe vaardigheid. Hierdie is 'n baie gesogte kenteken/kursus en ons laat slegs 8 verkenners tot die kursus toe.

Waterredding
Graad 11 en 12

Hierdie kursus rus Verkenners toe met vaardighede om moontlik eendag ‘n lewe te red. In hierdie kursus word Verkenners opgelei in Vlak 1 en Vlak 2 noodhulp en ontvang ‘n geakkrediteerde sertifikaat indien die vereistes bereik word. Verder word Verkenners opgelei in waterredding om verdrinking te voorkom en te hanteer.