Welkom by Nakuphi!

Kamp Nakuphi is ‘n waterwerkkamp wat jaarliks in Oktober aangebied word en vind plaas op Da Gama Dam wat tussen Witrivier en Hazyview lê.

Kamp Nakuphi se hoof doel is wateravontuur en ons streef om ‘n hoë gehalte kursus aan elke verkenner te bied.

Nakuphi is 'n trotse Gebiedskamp van Die Voortrekkers: Transvaal.

Nakuphi is meer as net 'n verkennerkamp - dit is 'n tuiste waarheen jy jaar na jaar kan terugkeer. Skryf in en word deel van hierdie dinamiese familie!

Nakuphi 2023

Nakuphi is anders as ander Voortrekkerkampe. Ons plaas meer waarde op die kwaliteit van ons aanbiedings as die aantal Verkenners op ons kamp. Ons glo daarin om die spesialisasievereistes te oortref en dit nie net te behaal nie.

Ons Kursusse

Varswaterkunde
Graad 8

Tydens die kenteken word die Verkenner aan die water voorgestel, met verskeie interessante aktiwiteite, soos dieptepeilings, bou en bemanning van 'n weerstasie, hengel en nog vele meer.

Roeikunde
Graad 9

Hier word die Verkenner die kuns van roei aangeleer. Daar word van platboom kano's, K1 en K2 kano's, en vlotte gebruik gemaak om die kuns te bemeester. Een van die hoogtepunte is die uitslaap, waartydens die Verkenners met hulle vlotte, kano's, bagasie en kos die kamp verlaat en iewers anders langs die dam gaan oornag.

Identifisering
Graad 9 - 12

Nakuphi bied die Voëlidentifisering spesialisasie aan. Da Gama Dam se ryk ekologie bied die perfekte geleentheid om jou kennis van die voëllewe rondom varswaterbronne te verskerp en indien jy verkies om jou voete bietjie droëer te hou is die kursus vir jou! Die kursus sluit ook 'n uitstappie na die Kruger wildtuin in!

Seilkuns
Graad 10 - 12

Tydens dié baie opwindende kursus, word Verkenners die basiese beginsels van seil geleer. Hierdie kuns word aangeleer deur van catamarans gebruik te maak. Alhoewel dit baie stabiele bote is, kan al die beginsels van seil baie goed hier geleer word. Die kursus word afgesluit met 'n baie opwindende regatta. 'n Verkenner wat die kenteken voltooi, kan op sy eie 'n boot opslaan en gaan seil in matige wind toestande. Elke Verkenner word met 'n spesiale toekenning en sertifikaat beloon na sy/haar eerste suksesvolle alleenvaart.

Snorkelduik
Graad 11 en 12

Kamp Nakuphi is die enigste kamp waar hierdie kenteken op 'n baie hoër vlak as net die kentekenvereistes aangebied word. Behalwe die basiese vereistes van snorkelduik word die verkenner ook aan die skubaduikkuns/-sport voorgestel. Alle Verkenners ontvang 'n NAUI Diving Passport sertifkaat as bewys van hulle nuwe vaardigheid. Hierdie is 'n baie gesogte kenteken/kursus en ons laat slegs 8 verkenners tot die kursus toe.

Noodhulp
Graad 11 en 12

In hierdie kursus ontvang verkenners die Noodhulp Vlak 1 en Noodhulp Vlak 2 sertifikaat. Hierdie gestandardiseerde kursus word deur wêreldklas fasiliteerders aangebied en die vaardighede wat hier aangeleer word strek baie verder as Die Voortrekkers. Verkenners wat hierdie kursus voltooi sal toegerus wees om makkerhulp te verleen en lewens te red.